Missie & Grondslag

Die Doopbelofte:

“Beloof u plegtig en is dit u voorneme om hierdie kind van wie u die vader en/of moeder is, as hy tot sy verstand gekom het, in hierdie leer na u vemoë te Onderrig en te laat onderrig?”

Alle ouers wat hulle kinders laat doop het het ‘Ja’ geantwoord op hierdie vraag. 

Die Waterbergskool vir CVO bied aan verbondsouers die geleentheid om die gelofte ten volle na te kom en hul kinders in die gereformeerde geloofsleer te laat onderrig, sodat hulle die Vader, die Seun en die Heilige Gees met hulle hele hart en siel en met al hulle krag kan liefhê en God se Woord in hulle hart kan bewaar (Deut. 6:5-9)

Die Calvinisties-Protestantse geloofsgrondslag:

Die grondslag van hierdie skool berus op die Calvinistiese-Protestantse gereformeerd geloofs- en lewens- en wêreldbeskouing.

Volgens hierdie geloofsgrondslag dra die Woord van God die hoogste en onfeilbare gesag op alle terreine van die lewe en dus ook op die terrein van die opvoeding en Onderrig van ons kinders.

Psalm 78:3,4: “ Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.”

Waterbergskool vir CVO handhaaf hierdie beginsel, en bied dus Bybelonderrig, vakonderrig en alle ander aktiwiteite vanuit die suiwere Bybelse leer aan.

Onder die gesag van God se Woord staan: die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordste Leerreëls, wat deur ons skool as die getroue weergawe van die hoofwaarhede in Gods Woord en as betroubare uitleg daarvan beskou word.

Dit is volgens Deut. 6:5-9 en 11: 18-20 die Here se wil dat ons kinders elke oomblik van die dag volgens Sy Woord onderig word, dit wil sê, dat verbondskinders se Christelike opvoeding in die huis, kerk en skool ‘n eenheid moet vorm.  Sulke ideale omstandighede laat die kind veilig voel om ten volle tot ontluiking te kom.

Verbondskinders behoort aan die Here: uit die Here se genade word verbondsouers uitgekies en geroep om hulle verbondskinders volgens God se Woord op te voed.  Die ouers is dus primêr vir die opvoeding van hulle kinders verantwoordelik.

Onderwys binne Boerevolksverband:

God het in sy Raadsplan beskik dat die Boerevolk ontstaan het en in sy geskiedenis, kultuur en tradisie uit ‘n Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing gegroei het.

Die Waterbergskool vir CVO dra hierdie Godgewe Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing in die opvoeding oor, sodat daar by die Boerekinders ‘n liefde gekweek word vir hierdie besondere Christelik-volkseie geskiedenis, kultuur en tradisies.  Die Boerevolk is ook ‘n geloftevolk en hierdie belangrike aspek moet ook neerslag vind in die opvoeding van ons kinders.

In die lig van Hand. 17:26 en Deut. 32:8 respekteer ons alle ander volke en alle ander rasse, soos wat ons die ryke verskeidenheid van God se hele skepping met groot respek behandel.

Die Waterbergskool vir CVO onderskryf die beginsel van selfwerksaamheid as die sleutel tot vryheid.

BCVO:

Die Waterbergskool vir CVO bestaan nie geїsoleerd en onafhanklik nie.  Die skool is ingeskakel by die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys.  Die BCVO is ‘n oorkoepelende organisasie wat alle CVO skole saamsnoer en wat sake van gemeenskaplike belang koördineer.  So byvoorbeeld hanteer die BCVO die eksterne matriekeksamen, onderhandel met onderwysowerhede, koördineer sport- en kultuurdae, reel jaarvergaderings, bied onderwysberade aan, waak oor standaarde by CVO skole, skryf in samewerking met die VCHO sillabusse en vakbeleide in alle vakke vir CVO skole, en lewer op vele ander terreine insette tot CVO skole.



© 2008 - 2012. Waterberg Skool vir CVO. Alle regte voorbehou.

[Tuis] [Meer oor Ons] [Missie & Grondslag] [Foto-album] [Kontak Ons] [Kaart] [Nuusbrief Inskryf]

Ontwerp deur Equadoor
Webmeester