|
In Januarie 1995 het Waterbergskool as privaatskool in Nylstroom begin funksioneer. Die skool is by die owerheid as skool geregistreer en beskik oor ‘n eie skoolterrein te Hospitaal weg. Die skool word op ‘n daaglikse basis deur die Skoolhoof bestuur. Die Opvoedingsraad, wat jaarliks deur die ouers verkies word, vorm die hoogste gesagsligaam van die skool. By Waterbergskool word Afrikanerkinders vir die toekoms toegerus ooreenkomstig die waardes en norms van die Christelike geloof. Dit sal hulle in staat stel om die plek wat vir hulle bestem is in die volwasse lewe vol te staan. Die skool beskik oor ervare en bekwame personeel wat met toewyding hulle roeping vervul. Personeelberade word jaarliks gehou vir verdere opleiding. Vir Graad 11 en 12 leerlinge word winterskole gehou vir optimale prestasies. Leerlinge word ook die geleentheid gebied om by Kumon te registreer, om sodoende hulle Wiskundige prestasies te verbeter. Aan die einde van Graad 12 skryf al die leerlinge aan CVO skole die Senior Matriekeindeksamen vraestelle van die BCVO se Eksamenraad. Die BCVO Eksamenraad is ingeskakel by die Suid-Afrikaanse Sertifiseringsraad. Die BCVO Eksamenraad beskik dus oor dieselfde regte en voorregte as enige van die ander provinsies. Erkenning van kwalifikasies geskied dus op gelyke voet. ‘n Matrieksertifikaat wat aan die skool verwerf word, verleen toegang tot enige tersiêre inrigting in die land. Die skool spog met ‘n 100% slaagsyfer in die Senior matriekeindeksamen sedert die skool se ontstaan! Vandag staan oudleerlinge hulle plekke in die samelewing vol op terreine wat strek vanaf die teologie, landbou, regte, rekeningkunde en skoonheidsbedryf. Kleuters: Die skool beskik oor sy eie kleuterafdeling, Kabouterland, waar kleuters vanaf driejarige ouderdom en kleuters in die Gr. 00 klas ‘n skoolgereedheidsprogram deurloop. Kultuur: Die skool bied deur die loop van die jaar kultuuraande aan waar leerlinge die geleentheid kry om aan ‘n verskeidenheid van items deel te neem. Redenaarskompetisie word op provinsiale en landswye vlak aangebied. Bybelkennis- eksamens en –projekte word jaarliks om die beurt aan deel geneem. Die hoogtepunt op die Kultuuralmanak is die Kunstefees wat jaarliks gedurende Augustus in elke streek aangebied word. Slegs beoordelaars wat by die Kultuurgilde geregistreer is, word toegelaat om as beoordelaars op te tree. Kunsuitstallings deur die leerlinge vorm deel hiervan. Die Kultuurjaar word afgesluit met ‘n Gala-konsert in Pretoria waar landswye uitblinkers kan optree. Sport: Sportdeelname ter wille van ligaamsontwikkeling en gesondheid, word deur die skool bevorder en aangemoedig. Sport word op ‘n goed georganiseerde wyse deur die Noord-Transvaalse Sportraad gekoördineer. In die somer word atletiek en krieket beoefen en byeenkomste word op huissportvlak en ook op vriendskaplike, streeks- en landswyevlak tussen skole en provinsies aangebied. In die winter word rugby, netbal en landloop beoefen en word daar tot op landswye vlak teen ander skole meegeding. Skaak word reg deur die jaar beoefen tot op landswye vlak. Die skool se skaakspan het Noord-Transvaal verteenwoordig tydens 2007 se Landswye Skaak Kampioenskappe te Pretoria. Naskoolsentrum: Die skool beskik oor sy eie naskoolsentrum waar kinders onder toesig kan huiswerk voltooi. Dit gee die ouers gerustheid dat hulle kinders in ‘n veilige omgewing studeer terwyl hulle werk. Die sentrum is gekoppel aan skoolkwartale.. |
||||||
|
Ontwerp deur Equadoor
|
||||||